Die doel van die kwalifikasie
Die kursus in elektries reflekteer die behoeftes van werkgewers in die huidige elektrisiteitsbedryf. Die kwalifikasie verleen aan studente toegang tot die elektrisiteitsbedryf en bied aan hulle die geleentheid om verskeie loopbaanmoontlikhede in die veld te oorweeg. Studente bekom die nodige kennis en vaardighede om geleenthede by klein besighede in die privaatsektor na te jaag.
Sol-Tech het in Februarie 2008 ongeveer 30 persent van vakleerlinge in elektries wat by die ESETA geregistreer was, opgelei. In 2006/07 is 549 studente in dié rigting as vakleerlinge opgelei, waarvan 167 Sol-Tech-studente was.
Wat sal die studente leer?
Hierdie kwalifikasie sal die studente se status, produktiwiteit en beroepsgeleenthede in die elektrisiteitsbedryf verbreed. Die studente sal die geleentheid kry om by te dra tot kwaliteit, produksiespoed en die groei van die bedryf. Die kursus se breedvoerige studiekomponente berei studente daarop voor om vakvaardighede te bemeester en hulle leer ook belangrike lewensvaardighede. Verder leer die studente hoe om ’n klein besigheid tot stand te bring en hoe om gesondheids- en omgewingskwessies in hulle bedryf te hanteer.
Handvaardigheid is ’n uiters belangrike deel van die kwalifikasie.
Gekwalifiseerde studente sal –
- die basiese beginsels van ’n besigheid ken en verstaan;
- weet waar hulle in die bedryf inpas;
- weet hoe hulle deur wetgewing, regulasies en ooreenkomste in die werksomgewing geraak word;
- operasionele stelsels kan identifiseer en toepas;
- ‘n situasie kan opsom, inligting kan interpreteer en inligting kan gebruik om take te verrig;
- inligting kan organiseer en data kan gebruik, asook teorieë en beginsels in elektriese situasies kan toepas;
- hulle rol en verantwoordelikhede kan uitvoer deur toepassingsprosesse op te som, uit te klaar en te bespreek, en dit deur middel van wiskundige en teoretiese konsepte, tegnieke, diagramme en tegnologie toe te pas; en
- met kollegas, kliënte en bestuurders kan kommunikeer en hulle menings mondelings en skriftelik kan oordra.
Studente sal dus aktief aan alle werkverwante aktiwiteite kan deelneem.
Hoe word die studente geëvalueer?
Die meeste studie-eenhede behels opdragte sowel as teoretiese en praktiese opleiding. Om die kwalifikasie te behaal, word ’n portefeulje van voltooide werk benodig.
Bywoning
Elke vlak neem een jaar om te voltooi, aangesien dit ses maande se teoretiese opleiding en simulasie-opleiding in ’n gemonitorde omgewing en ses maande se praktiese opleiding in die bedryf behels.
Die kwalifikasieroete
- Vlak 1 – een jaar
- Vlak 2– een jaar: Indien die student die enkelfase bedradingslisensie bekom, kwalifiseer hy/sy as ’n konstruksie-elektrisiën.
- Vlak 3 – een jaar
- Na die derde jaar lê die student ‘n vaktoets af by ‘n geakkrediteerde vaktoetssentrum om as elektrisiën te kwalifiseer.