Die doel van die kwalifikasie
Die doel van die kwalifikasie is om aan studente ’n vlak van opleiding te bied wat hulle in staat sal stel om doeltreffend in die megatronikabedryf te werk en die uitdagings van die bedryf te hanteer.
Die belangrikste vaardighede wat deur die kwalifikasie erken word, is –
- die kontruksie van eenvoudige dele binne gegewe toleransievlakke;
- die installering, toets en onderhoud van basiese elektriese stroombane;
- die kontruksie en toets van elektriese stroombane;
- die installering, toets en gebruik van enkelfase AC/DC-masjiene, beheerders en skakeltoerusting;
- die installering, toets en onderhoud van basiese pneumatiese stelsels;
- die installering, toets en onderhoud van basiese hidrouliese stelsels; en
- die programmering, installering en toets van basiese PLC-kontrolestelsels.
Wat sal die studente leer?
Die vervaardigingsbedryf word gekenmerk deur tegnologies gesofistikeerde outomatisasieprosesse wat gebruik maak van Computerised Integrated Manufacturing (CIM)-stelsels wat die velde van meganika, elektronika en elektriese ingenieurswese sowel as kontrole- en inligtingstegnologie met mekaar integreer. Die megatronikabedryf behels die installasie, onderhoud en kommissie van CIM-stelsels wat aan regulasies en wetgewing ten opsigte van veiligheidsaspekte moet voldoen.
Studente sal ’n kennis van meganiese, elektriese en elektroniese teorie, ingenieurstekeninge, elektriese stroomdiagramme en beginsels van meetkunde opdoen. Hulle sal ook die vaardigheid leer om ingenieurskomponente te verbind en om eenvoudige parte te masjineer deur draaibanke, freesmasjiene, gereedskap of ’n rekenaar te gebruik.
Persone wat in die veld van megatronika werk, benodig gespesialiseerde tegniese vaardighede en kennis sowel as hoogsontwikkelde handvaardighede wat hulle in staat stel om megatroniese stelsels te installeer en in stand te hou.
Gekwalifiseerde studente sal –
- oor die vermoë beskik om dit wat hulle sien en ervaar met wetenskaplike en tegnologiese beginsels en konsepte te verbind; en
- oor die vermoë beskik om die verskeie beleide en prosedures met betrekking tot die veiligheids-, gesondheids-, omgewings- en kwaliteitstelsels wat hulle werkplek reguleer, na te kom.
Hoe word die studente geëvalueer?
Die meeste studie-eenhede bestaan uit opdragte sowel as teoretiese en praktiese opleiding. Om die kwalifikasie te behaal, word ’n portefeulje van voltooide werk benodig.
Bywoning
Elke vlak neem een jaar om te voltooi, aangesien dit ses maande se teoretiese en simulasie-opleiding in ’n gemonitorde omgewing en ses maande se praktiese opleiding in die bedryf behels.
Die kwalifikasieroete
- Vlak 1 – een jaar
- Vlak 2 – een jaar
- Vlak 3 – een jaar