Meer oor Sol-Tech

Sol-Tech is ’n Christelike, Afrikaanse opleidingskollege. Dit bied tans vakleerlingskapkursusse in elektries , meulmaker, pas en draai en dieselwerktuigkunde aan. Daar is ook 3 gereedskapmakers wat in 2010 gekwalifiseer het.

Sol-Tech beoog om later sy kursusse na ander skaars vaardighede uit te brei. Sol-Tech-studente is outomaties meer aanstelbaar omdat hulle opleiding in skaars vaardighede ontvang. Hulle het gevolglik toegang tot werksgeleenthede ten spyte van regstellende aksie in Suid-Afrika en kan ’n bydrae lewer om die groeiende vaardigheidskrisis in die land hok te slaan.

Missie

Om, in samewerking met alle rolspelers in die opleidingsbedryf, opleidingsprogramme van hoë gehalte aan te bied.

Ten einde hierdie doel te verwesenlik, het die kollege goeie verhoudinge gevestig met rolspelers in die Suid-Afrikaanse opleidingsbedryf wat deurentyd verseker dat opleiding van die hoogste gehalte verskaf word. Sol-Tech beskik ook oor goed gekwalifiseerde lektore wat nie net ondervinding in opleiding het nie, maar ook oor ondervinding in die onderskeie tegniese bedrywe beskik.

Sol-Tech het akkreditasie en/of programgoedkeuring by die ESETA,  Merseta  en Dienste-SETA.

Watter opleidingsmodel volg Sol-Tech?

Vakleerlingopleiding duur normaalweg drie jaar, waarna ’n vaktoets vir die kwalifikasie afgelê word. Elke vlak behels ses maande se teoretiese opleiding by Sol-Tech in ’n gesimuleerde werksomgewing. Hierna plaas Ajani Plasingsmaatskappy studente by diensverskaffers vir ses maande se praktiese opleiding. Die proses word herhaal vir drie jaar of totdat ’n student gereed is om ’n vaktoets af te lê.

Die voordele van hierdie opleidingsmodel is soos volg:

  • Dit is doeltreffend omdat die studente vinnig gewoond raak aan intensiewe opleiding in ’n opleidingsomgewing.
  • Die studente word deurlopend aan nuwe vaardighede blootgestel en hulle word uitgedaag om meer gevorderde vaardighede aan te leer.
  • Die lektore is fyn ingestel op die studente se belangstellings, voorkeure en afkeure. Hierdie insig en kennis word aangewend om die studente se entoesiasme aan te wakker.
  • Na ses maande se opleiding het die studente reeds ’n string vaardighede baasgeraak wat hulle baie waardevol maak vir werkgewers.
  • Hoewel studente tydens hulle ses maande van praktiese opleiding betaling ontvang, het hulle werkgewers geen finansiële verpligting teenoor hulle nie. Studente kan dus na afloop van hulle praktiese opleiding terugkeer na Sol-Tech vir die volgende ses maande van teoretiese opleiding.

Wat is skaars vaardighede?

“In die moderne wêreld is dit noodsaaklik dat elke nuwe geslag beter opgelei is as die vorige een. Die probleem is dat die opleidingstoneel in Suid-Afrika heeltemal verander het en dat Afrikaners moet aanpas of verarm. Naskoolse opleiding raak vir baie jongmense ’n duur en kwalik toeganklike luukse wat al hoe moeiliker bereikbaar is. Die omwenteling van 1994 is hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik. Daar is so bemagtig, getransformeer en reggestel, dat die vaardigheidstekort in die land nou krisisafmetings aanneem. Ekonome bereken dat daar in 2006 reeds 300 000 oop poste is wat weens ’n kundigheidstekort nie gevul kan word nie.” Flip Buys, Uitvoerende Hoof: Solidariteit

Waarom bied die vakbond Solidariteit opleiding in skaars vaardighede aan jongmense?

Die vakbond Solidariteit het ongeveer 140 000 lede wat deur ongeveer 300 personeellede bygestaan en bedien word. Solidariteit verteenwoordig werkers, maar het ook ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap waarin daardie werkers leef. Dit is Solidariteit se doel om aan elke aspek van sy waardeketting ’n diens te lewer.

  • Solidariteit lewer ’n diens vir kinders deur sy maatskaplike inisiatief, die Helpende Hand Fonds.
  • Solidariteit bied ’n diens aan jongmense deur Sol-Tech wat opleiding in skaars vaardighede aanbied. Solidariteit Helpende Hand gee ook beurse en lenings aan Afrikaanse studente wat by Sol-Tech en ander instellings studeer.
  • Omdat werksoekers hulp nodig het om werk te kry en om ’n bydrae tot die land se ekonomie te lewer, het Solidariteit sy eie personeelagentskap, Express Employment Professionals, gestig.
  • Werkende mense se regte moet beskerm word – hierdie aspek is Solidariteit se hooffunksie.
  • Wanneer werknemers aftree, word hulle nie as onbelangrik geag nie. Solidariteit Helpende Hand bied dus ook ondersteuning aan afgetredenes.

Volg ons op Facebook